Tuesday, 18 September 2012

Van spaardilemma tot droomvakansie – R100 op ’n slag



Spaar beteken verskillende dinge vir verskillende mense.Vir die meeste Suid-Afrikaners het die woord egter nog steeds negatiewe konnotasies soos harde bene kou, skuldgevoelens en wanhoop.

Volgens……. is die rede hiervoor dat spaar outomaties ’n gevoel laat ontstaan dat jy jouself iets ontneem.“Daar is skynbaar ’n persepsie dat jy eers ’n sekere luukse of beloning moet prysgee om geld beskikbaar te kan hê vir spaar.Dit hoef egter nie so te wees nie, en spaar kan trouens deel van jou leefwyse word, met die minste moeite.”

Hoe kan jy dit regkry?…… stel voor dat jy jou daaglikse inkopies elke dag aanteken,of jou bankstate aan die einde van die maand nagaan.“Op hierdie manier kan jy die beste sien waar jy jou geld bestee.Dit sal waarskynlik vir jou ’n skok wees om agter te kom presies hoeveel jy uitgee, en waarheen jou swaarverdiende geld gaan.”

Hy sê hoewel baie verbruikers kla dat hulle nie genoeg geld het om aan die einde van die maand te spaar nie, bestee hulle dikwels maklik geld aan nie-noodsaaklike items.“’n Paar Steers-burgers in ’n maand kan jou byvoorbeeld R200 uit die sak jaag, jy sal miskien ’n nuwe paar skoene op uitverkoping raakloop vir R200, ’n vinnige wegneemkoffie op pad werk toe kry en natuurlik die jongste CD van jou gunstelingsanger aanskaf teen R150 – en jy het klaar sowat R600 bestee.”

Hoewel ons onsself maklik bederf, raak dit baie makliker om selfs net R100 per maand opsy te sit, as ons ontleed wat ons alles koop.…………. sê jy kan baie vermag deur R100 per maand te spaar.Haar berekenings toon dat ’n belegging van R100 per maand in ’n spaarproduk teen ’n realistiese rentekoers van 5% beteken dat jy teen die einde van die eerste jaar R1 227 gespaar het.Dit styg tot R6 781 na vyf jaar, en R15 436 na 10 jaar.’n Spaarbedrag van R500 per maand toon selfs nog beter resultate:dit groei aan tot R6 136 teen die einde van jaar een, R33 907 teen jaar vyf en R77 182 teen jaar 10.“Dit wys jou dat dit nie nodig is om baie geld per maand weg te sit om te kan spaar nie. Deur net klein dingetjies uit te skakel, kan jy jou spaargeld tot ’n beduidende bedrag laat aangroei.”

…….. se advies is ook om ’n slim koper te word.“Om skoene op uitverkoping te koop en wat jy spaar aan iets anders te bestee, is nie slim koop – of spaar – nie.Jy spaar eers regtig wanneer jy die geld wat jy 'gespaar' het in jou spaarfonds sit om later op ’n meer sinvolle wyse te bestee.”

Een manier om dit reg te kry, is om ’n spaarplan te hê, en ’n duidelike visie van die uitkoms.Hy stel voor dat jy ’n korttermyn- en ’n langtermynspaarplan kry.“Die korttermynplan kan byvoorbeeld gebruik word om te spaar vir ’n iPad, ’n vakansie, jou droomtroue, ens. Dit is ’n plan wat binne twee jaar sy doelwit kan bereik.Die langtermynspaarplan is bedoel vir jou aftrede, ’n deposito op jou huis of miskien jou kind se opvoeding – dus enigiets meer as twee jaar.”Een manier om seker te maak dat jy nie die spaardoelwit laat vaar voordat dit bereik is nie, is om prentjies te gebruik.….. sê jy moet ’n prentjie teen jou muur plak van die droomvakansie wat jy beplan, of die tablet wat jy in die rekenaarwinkel gesien het.Dit sal jou help om die einddoel in gedagte te hou en hopelik nie jou geld te bestee aan goed wat jy nie nou nodig het nie.

……. stel voor dat jy ’n spaarproduk kies wat jou ’n goeie rentekoers gee.Ter illustrasie sal ’n spaarbedrag van R500 per maand na 10 jaar ’n bedrag van R60 000 in reële terme lewer as jou rentekoers nul persent is.Maar soos vroeër aangedui, groei dit aan tot R77 180 teen ’n rentekoers van 5%.Sy advies is om eers die mark deur te kyk vir ’n goeie spaarproduk.Of moenie skaam wees om ’n beter koers te vra nie.

Hy sê kopers behoort die gewoonte van “onmiddellike beloning” deur nie-noodsaaklike items te koop, af te leer en eerder ’n spaargewoonte aan te kweek.“As ons ’n spaardoelwit het, voel ons nie dat ons onsself iets ontneem as ons nie daardie klere koop wat ons nie nodig het nie.En miskien kan ons finaal die gedagte uit ons kop kry dat spaar sinoniem is met skuldgevoelens, wanhoop en harde bene kou – en eerder daaraan dink dat die uitkoms ’n droomvakansie kan wees.”

No comments:

Post a Comment